And one more from “Die Burger” (this one actually makes mention of us backstage crew and the magnificent way in which we change the sets! [smile] )
Resensie: Vindingryke ‘Annie’ vermaak deurgaans op gladde tempo
2010-11-16 03:12
Marina Griebenow
Musiekspel
Annie
Kunstekaap-operahuis, Kaapstad
Die plaaslike Gilbert & Sullivan-vereniging vermaak al dekades lank nie slegs met die sogenaamde Savoy-operas nie, maar merendeels met musiekspele wat groot rolverdelings vra en besondere tegniese eise aan dié groep amateurspelers stel.
En ’n mens het met die jare gewoond geraak aan ’n baie hoë standaard.
Hul aanbieding vanjaar, die immergroen Annie, is geen uitsondering nie. Aangesien die speelvak tot 5 Desember loop, het die regisseur Kyla Thorburn twee volledige rolverdelings – 90 in totaal. Selfs Sandy die hond het ’n duplikaat! Met die openingsaand het die “Big Apple”-rolverdeling opgetree.
Dicky Longhurst se stelle is vindingryk en imposant en hy gebruik alles in die operahuis wat swaai, draai of in-, op-, af- en uitskuif. Die seepgladde tempo waarin dié groot stelle verander, is bewonderenswaardig.
Terloops, iemand het Oliver Warbucks (Shaune Browne) se pragtige art deco-huis effe teleurgesteld herken as ’n stel wat in My Fair Lady gebruik is. ’n Amateurgeselskap wat so knap met sy begroting werk en steeds die gehoor beïndruk, behoort na my mening gelukgewens te word.
Hoewel Browne, ’n gevestigde G&S-speler, al in vele rolle te sien was, onthou ’n mens veral sy Tevje in Fiddler on the Roof (2000) en die koning van Siam in The King and I (2006). Selfs as die emosioneel onbeholpe Warbucks straal Browne ’n sjarme en krag uit wat moeilik is om te weerstaan. Met sy teenwoordigheid maak hy die verhoog vol; sonder om die kollig te steel van sy medespelers.
Coleen van Staden het weer die gehoor kliphard laat skaterlag met haar vertolking van die geil, gierige Miss Hannigan, wat haar bes doen om die spul wesies, ook Annie (Julia Holzberg), onder haar besope duim te hou. Julie Harris blink ook uit as Grace Farrell, Warbucks se bekwame assistent.
Holzberg lyk op ’n haar na ’n jong Barbra Streisand en vaar goed in die hoofrol. Of haar stemmetjie, nou nog baie soet in die topregister, mettertyd so groot soos Streisand s’n sal word, sal net die tyd leer.
Annie is by uitstek ’n ensemble-werk en die hoogtepunte is eweneens nommers waarby almal betrek word, waaronder “NYC” en “New Deal for Christmas”.
Penny Simpson se kostuums en Roxy Levy se choreografie dra verder by tot ’n pragproduksie waarop die G&S-vereniging met reg trots kan wees.
Tot 5 Desember.